Mondipak Langklooffees McLachlan Hoerskool
Aangebied deur McLachlan Hoërskool
Joubertina
Mondi Packaging
Aangebied deur McLachlan Hoërskool

Hoërskool McLachlan is geleë op Joubertina in die pragtige Langkloof, op die welbekende R62 toerismeroete, halfpad tussen George en Port Elizabeth.  Ons skool het 308 leerders (van graad 1 tot 12) en 23 voltydse werknemers (slegs 10 van hierdie poste word voltyds deur die Onderwysdepartement vergoed).  Ons is verteeenwoordigend van die hele gemeenskap en 56% van ons leerders kom uit voorheen benadeelde gemeenskappe.  Ons is die enigste hoërskool in ’n gebied wat strek oor bykans 100km van Avontuur in die weste tot Walletjies in die ooste.

Ons missie is om as Suid Afrikaners saam te leef en te werk en te studeer, ongeag ons uiteenlopende sosio-ekonomiese omstandighede en verskillende kulture.  Ons streef na uitnemendheid in alles wat ons aanpak, om trots by ons leerlinge aan te wakker, en bo-gemiddelde prestasies te lewer.  Die afgelope 9 jaar se 100% slaagsyfer is maar een bewys van hierdie toegewydheid.

McLachlan Hoerskool

Ons jaarlikse Bloeiselfees wat elke jaar aan die einde van Augustus plaasvind (26 en 27 Aug 2011) is die kroon van die Langkloof se sosiale kalender.  Die fees skop af met ’n boeredag, waar welbekende sprekers in die Agri-industrie boere en werkers inlig oor nuwe tendense op verskillende relevante gebiede.   Vanjaar gaan ons al op die Vrydagaand groot makietie hou op die lewendige musiek van SNOTKOP(Francois Henning).  Na sy vertoning kan daar nog heerlik in die biertent gekuier word saam met Pieter Mitchell (komediant/sanger).

Saterdag is familiedag en die talle stalletjies en uitstallers wag om ontdek te word.  Daar is  ‘n  Sterkman wat sy krag kom wys en vermaak op die sportgronde vir die kleinspan.  Daar is ook ‘n babaskou vir die ou kleintjies tot 23 maande en ‘n Mej McLachlan vir die hoërskoolmeisies.  Die manne kan rugby kyk.  McLachlan se eerste span is weer in aksie.   Saterdagaand is die groot  partytjie wanneer Kaptein Kurt Darren optree.  Ons sien uit daarna om ‘n groot ster  in ons midde te hê.  Na die vertoning is daar nog vermaak in die kroegarea met onder andere Brink Botha se dansorkes.

SnotkopKurt Darren

Sondag sluit ons die fees af met die feesdiens in die NG Kerk Joubertina.  Die diens begin 9h30 en almal is welkom.

Kom ondersteun gerus ons fees, en boonop ’n goeie saak....ons skool....en kom ons wees eerlik....kan ons bekostig om nie ons skool te ondersteun nie.