
Uniondale hou vanjaar ons 48ste jaarlikse Landbouskou gedurende die naweek van 30 September tot 1 Oktober. Die skou skop Vrydagoggend af met die OP Saalperdkampioenskappe en Boerperd Klubskou wat tot Saterdagmiddag in die hoofarena plaasvind. Later die oggend sal die beoordeling van die Merino en Dorper skape, asook Angoras en Boerbokke plaasvind. Daar sal ook die heeldag vermaak vir die jongspan wees . Die aand tree die gewilde Wicus van der Merwe in die skousaal op waarna daar lekker geëet en gedans sal word.
Saterdag word daar met pragtige Boerboele geskou, maar die plaaslike honde kry ook hul beurt. Daar is verskeie items waaraan hulle kan deelneem. Maak nie saak hoe mooi of lelik die hond is nie.
Langs die Nywerheidsaal sal daar ook ‘n Provinsiale Budgieskou plaasvind. Budgies van alle kleure sal daar te sien wees. Professionele skeerders sal ook ’n skeerdemonstrasie lewer.
Vir die jongspan is daar weer heeldag vermaak asook ‘n jeugskou vir die kinders wat graag met diere werk. Die Rebel 4X4 klub sal ook entoesiaste vermaak met hulle “Extreme” voertuie. Jong kunstenaars sal gedurende die dag op die dek optree en ons sluit die dag af met ‘n heerlike “steak”-ete op die dek.
Swerf gerus op ons webwerf (www.igen.co.za/uniondaleshow) vir meer inligting asook programme, inskrywingsvorms en kontakbesonderhede van die konvenors.
Bring die familie en vriende en kom besoek ons unieke skou. Daar sal ool verskeie uitstallings asook kuns en kostalletjies wees om te besoek.





